Oct
28
Written by:
Andries Johannes Combrink
Thursday, October 28, 2010
Oktobermaand... is dit nie gewoonlik die tyd wanneer ons begin om die dae af te tel tot die begin van Desember vakansie nie? Daar word vakansieplanne bespreek en dalk reeds aan 'n Kersgeskenk of twee gedink; alles wat wys op die lekker tyd wat voorlê.
Nou ja, miskien was dit omdat ons so lekker by Opskop die eerste keer gekuier het en baie mense gevra het wanneer ons weer gaan, of dalk omdat ons bietjie laat wakker geskrik het om iets ordentliks vir Oktober te reël, maar ons het aan die begin van Oktober weer die dans ding gedoen. Daar was minder mense as die vorige keer, maar soos ek genoem het, ek dink dit was grootliks ons skuld omdat ons nie 'n week vroeër begin bemark het nie.
Selfs al was dit kort kennisgewing was die dans darem steeds groot pret en ek weet almal wat daar was het die aand geniet. Miskien moet ek bynoem, die meisies het dit dalk meer geniet as die ouens. Dit was my eerste keer dat ek saam met mense gaan dans het waar meer ouens as meisies opgedaag het. (Kan 'n ou ook 'n muurblommetjie genoem word...?)
Dankie soos altyd vir die van julle wat daar was.
'n Onderwerp wat ek die laaste tyd baie opgemerk het, het te doen met selfbeeld. Hoe voel of dink jy oor jouself? Dit is 'n teer sakie, en almal, elke liewe persoon het hulle onsekerhede by tye. Ons wil graag aanvaar word, en ons wil weet dat ons iets werd is, dat ons saakmaak...
Ek gaan net die volgende oor die saak sê. Eerstens, iets wat my Pa my geleer het toe ek nog op skool was: mense sien jou soos jy jouself sien. Wat hy bedoel het is dit, as jy dink jy is niks werd nie sal mense outomaties ook tot daardie gevolgtrekking kom. Jy weet mos die beste wat jou waarde is. As jy jouself sien as okay, sal mense dit ook sien. Almal gaan nou nie skielik jou beste pel wil wees nie, maar hulle sal dieselfde waarde aan jou heg as wat jy doen.
So hoe kry mens dan 'n sin vir waarde? Dit kom deur jou identiteit, en dit is waar die probleme begin. Ons sukkel met ons selfbeeld omdat ons nie weet wie ons is nie, of ons vorm ons identiteit rondom dinge soos die ou of meisie met wie ons uitgaan, die motor wat ons ry, waar ons werk, waar ons bly, watter klere ons aantrek. Alles dinge wat jou maklik in die steek kan laat.
Die oplossing? Wel, die "teoretiese" antwoord is, bou jou identiteit in Christus. In praktyk is dit om vir jouself die volgende twee waarhede oor en oor en oor te vertel. Een, God maak nie foute nie, mense miskien, maar God... nooit nie. Jy is nie 'n fout nie en hoe en wat jy is is 'n "awesome creation". Groot of klein, lank of kort, slim of dom, mooi of gewoon... jy is in Sy beeld en dit maak jou spesiaal. Onthou, God kyk nie na die uiterlike soos mense nie, maar na die hart. Tweedens, niks kan jou van die liefde van Christus skei nie! Gaan lees Romeine 8:31-39 en kyk wat sê Paulus: "Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?... Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here."
Nou maak dit nie meer saak of jy single is of nie, of jy 'n werk het of nie, of jy geld het of nie, of jy 'n model is of nie... jy is spesiaal omdat God jou so gemaak het en jou so lief het, en dit is onafhanklik van enige omstandighede waarin jy jouself mag bevind...
Goed, nog 'n paar lekker geleenthede wat hierdie jaar oor is... en dan is dit vakansie!