Sunday, May 20, 2012
   
Media Blogs
Blogsoek
Vertoon Blogs
Aug 28

Written by: Andries Johannes Combrink
Saturday, August 28, 2010  RssIcon

Is dit net ek of is 2010 besig om soos 'n stoomtrein verby te jaag? In Augustus het die Social Club gaan Tenpin Bowling speel in die Tygervallei, en saam met dit het ons sommer ook 6 maande oud geword. Dit voel regtig soos gister wat ek, Arno en Gerda in die sonnetjie agter op die kerkgronde gesit het, en bespreek het hoe ons die Social Club weer in die kerk op die been kan bring.

Tenpin Bowling... ek moet bieg dit was my broer se voorstel oorspronklik. Persoonlik speel ek graag Tenpin Bowling as ek die kans kry, maar dit is een van daardie dinge wat nie noodwendig vir almal opgewonde gaan maak nie. So, ek was voorbereid daarop dat dit net ons viertjies sou wees wat die Social Club reël, en my broer natuurlik want ek sou hom tot aan sy ore saamgesleep het as dit daarop moes neerkom. Soos gewoonlik het ek nie nodig gehad om te wonder of mense sou opdaag nie, ek was nie terleurgesteld nie.

Duidelik kan ons nie speel soos die mense op televisie nie, maar waar ons in talent kortgeval het, het ons opgemaak in entoesiasme en lag-uit-jou-maag oomblike. Daarna was dit die nou-al-tradisie van 'n restaurant of koffiewinkel soek om te doen wat ons die beste kan doen - sit en kuier. Eindelik was daar selfs 'n klein groepie van ons wat nog Tygerwaterfront toe is om die Saterdag op 'n ordentlike noot af te sluit.

Dankie aan elkeen wat daar was, julle het die geleentheid soos altyd 'n sukses gemaak.

My gedagte vir die maand sluit aan by die reeks waarin ons op die oomblik is. Verander jou wêreld. Meer spesifiek het die week rondom seisoene my nogals na aan die hart gelê. Teen hierdie tyd weet ons daar sal altyd goeie tye wees en ander kere slegte tye. Partykeer voel dit dalk asof die slegte tye meer is as goeie, maar persoonlik dink ek soms dit is omdat tyd vlieg as jy jouself geniet... en tyd traag verby gaan as jy swaar trek dat dit ons indruk is.

'n Kern gedagte vir my rondom seisoene is... wanneer dit sleg gaan, hoe is jou gesindheid teenoor die Here? Dalk 'n snaakse vraag. Die regte ingesteldheid is Jakobus 1:2-4 waar ons sien ons moet bly wees as beproewinge oor ons pad kom, want as ons glo deur die swaarkry, help dit ons om te volhard, en volharding kweek eindelik 'n volwasse gees sonder tekortkominge. Dit is beslis die ideaal waarna almal van ons moet streef, maar baie van ons begin soms op kruispad verder terug voordat ons eers by die plek van glo kan uitkom. Die kruispad is, gaan ek my rug op God draai omdat ek Hom blameer vir my seer en niks met Hom te doen wil hê nie, of gaan ek in my twyfel en frustrasie die Here konfronteer en met Hom worstel totdat ek (soos Cassie gesê het) die laaste vraag gevra het wat in my hart leef?

Afhangende van die besluit op hierdie kruispad wat jy neem sal dit jou lewe totaal verander vir goed of sleg. Persoonlik moedig ek elkeen aan om met die Here te worstel en te worstel en te worstel... want dit is in hierdie groot stryd dat jy werklik sal leer wie die Here is, en dit is dan daardie kennis wat vir jou 'n opregte geloof sal bring en jou sal help om te volhard. Mag jy regtig met die Here stoei totdat jy Hom gevind het...!

Volgende op die lys van goed wat ons gaan doen is om Constantia Nek uit te klim. Ek vertel volgende keer hoe hierdie avontuur afgeloop het. 

Tags:
Categories:

Your name:
Gravatar Preview
Your email:
(Optional) Email used only to show Gravatar.
Your website:
Title:
Comment:
Add Comment   Cancel