Apr
28
Written by:
Andries Johannes Combrink
Wednesday, April 28, 2010
Hier is ons weer. Die Social Club het in April die Kromrivier gaan stap. Blykbaar het dit goed afgeloop. Hierdie maand kon ek nie deelneem nie, so ek het nie eintlik veel om te vertel nie, en as jy wonder waar ek was, ek was saam weg vir die naweek in Tulbach op die Love Camp.
Ongewonde liefde... dit is iets wat ons nog baie gaan hoor vir die volgende twee maande. En dit is iets waaroor ek baie gedink het die laaste paar weke. Verhoudings is die spulpunt waarom ons lewens draai, veral as mens jonk is, en ek dink nie dit verander ooit regtig nie. Jou verhouding met die Here, jou ouers, jou vriende, en dan natuurlik daai oukie of meisie wat jy dink is so vreeslik oulik. Kom ons wees eerlik, verhoudings is nie maklik nie, nie om te vestig nie, of om te bestuur nie en glad nie om te verstaan nie. 'n Verhouding kan met die knip van 'n oog op sy kop gekeer word, onherstelbaar beskadig word, of net so maklik versterk word.
Moenie dat iemand jou ooit vertel dit is verkeerd om na hierdie verhoudings te verlang nie. Kyk net waardeur het die Here self gegaan om met jou en my 'n verhouding te hê. Sy enigste Seun het hy nie gespaar nie!
Die eintlike vraag is dan dit: Hoekom is daar so baie jongmense wat met gebroke harte rondloop daarbuite, en wat so alleen en eensaam voel selfs tussen baie ander mense? Hoekom sukkel mense so om te connect? En waarom is lewens bitter arm in die ongewone liefde wat hulle graag wil ontvang en wat hulle graag wil weggee?
Ek gaan die saak nie probeer vereenvouding nie, en nie voorgee asof ek kitsantwoorde het nie. Ek sal net twee stories uit my eie lewe deel:
Op Universiteit het 'n goeie vriend van my selfmoord gepleeg. Hy het van die sesde verdieping van die Ingenieursgebou in Stellenbosch afgespring terwyl ons jaargroep in die Rekenaarwetenskap Laboratorium gesit en werk het. Dit was 'n grusame einde... Ek en Theo het baie aande tot laat in die lab gesit en werk, en oor alles gesels, die lewe, die Here, en tog het ek heeltemal oor sy hartseer gekyk. As ek terugkyk nou sien ek elke hulpkreed wat hy uitgeskreeu het, maar my voelers was net nie uit om dit te hoor nie. Ons, veral as kinders van die Here, moet baie meer gesteld wees op die mense naaste aan ons. Moet nooit onderskat hoe baie goeie maniere en ordentlikheid of selfs 'n glimlag iemand sal raak nie, of hoe seer 'n "brush off" iemand kan maak nie!
Dan, op Universiteit het ek eenmaal 'n "afsê" brief gekry van 'n meisie wat ek eintlik glad nie geken het nie. Haar kamermaat het dit vir my gebring. Sy het van 'n ander oukie gehou, en my vriendelikheid het haar oortuig sy moet baie duidelik vir my sê sy stel nie belang nie. Sy kon die bal op geen manier verder misgeslaan het nie. Vandag lag ek daaroor... daai tyd was dit nie so snaaks nie. Daarteenoor het ek 'n ander meisie ontmoet wat ek gedink het is een van die oulikste persone wat ek ooit teegekom het. Toe ek haar die dag ontmoet het, het ek natuurlik nie geweet sy staan op trou nie. Ten spyte daarvan het sy dit nie teen my gehou of my gestraf omdat ek kon sien hoe spesiaal sy is nie. Ons het oor tyd 'n vriendskap ontwikkel wat albei se lewens verryk het. (Ons is na 11 jaar nogsteeds vriende en ja sy is baie gelukkig getroud met 'n baie goeie man.) 2 Timoteus 1:7 praat van die gees wat God ons gee, nie van vrees nie, maar liefde, krag en selfbeheersing. My punt is dat jy nie kan lief hê en bang wees gelyk nie! Moenie toelaat dat jou lewe arm word in liefde omdat jy bang is nie... vat 'n kans om iemand beter te leer ken, moenie voor die voet besluit jy weet wat iemand se bedoelinge is nie. Jy kan net dalk uitmis op 'n lewenslange vriendskap.
Nou ja, die 1ste Mei gaan ons ysskaats by Grandwest! Ek hoop om julle daar te sien. Ek sal volgende keer vertel hoe dit was.
Jy mag maar met ons bietjie deel hoekom jy dink so baie jongmense loop met seer harte rond en voel hulle so eensaam daarbuite...
1 comment(s) so far...
Re: April - Die Kromrivier en Ongewone Liefde
Julle outings klink so lekker! Wil net vra wat van die effens ouer mense wat ook alleen rondloop en graag met ander enkellopendes sal wil kennis maak? Wil die kerk dan nie vir ons ook voorsien nie? ons mag ouer wees maar ,ek , vir een , wil social en kuier .... Waar is die middeljariges , die mid - lifers, die eensames , die ongetroudes......?? Laat hoor van julle!
By Denise McLoughlin on
Wednesday, June 23, 2010
|