Vredelust is ‘n gemeenskapskerk wat alle vorme van menslike nood raaksien (hetsy geestelik, emosioneel, fisiek of andersoortig) en ook daad-werklik iets daaraan probeer doen. Ons wil graag ‘n verskil in die wêreld maak en meewerk aan die koms van God se koninkryk op aarde! Daarom is ons besorgd oor die mense naby en rondom ons, asook die mense verder en selfs baie ver van ons af.
Geen gemeente kan enige gemeenskap probeer verander sonder geloof, hoop, liefde, gebed en hulpbronne (mense, diensbaarheid, gawes, talente - en ook finansies) nie. Ons is oortuig dat Vredelust hier is om Jesus se Groot Opdrag te gehoorsaam en uit te voer, word daar vanjaar gebid en begroot vir meer as R1.55 miljoen wat lidmate aan die Vredelust Sendingfonds sal gee om gemeenskapswerk mee te onderneem, asook om sendelinge en sending-instansies mee te ondersteun om namens ons by verlorenes uit te kom.
Gedurende 2012 wil ons voortgaan om lidmate in te lig, prakties bloot te stel en aktief betrokke te maak by transformasie in verskillende gemeenskappe. Die name en kontakbesonderhede van die persone en organisasies waarby Vredelust Gemeente betrokke is, word in die brosjure deurgegee vir voorbidding, persoonlike kontak en/of ander maniere van ondersteuning.