Thursday, February 23, 2012
   
Oor Vredelust Wie is ons Visie/Missie

Visie/missie

 

In Augustus 2005 het bykans dertig van Vredelust Gemeente se personeel en leierskap ‘n besondere ervaring met die Here by Slanghoek gehad. Dis baie duidelik aan ons gesê dat ons ‘n kerk vir die gemeenskap moet wees. Toe het ons nie geweet wat dit alles beteken of wat dit vir ons sal inhou nie. Dit is saamgevat in die formulering van ons missie as:

Verander lewens en gemeenskappe  -  

                  Transforming lives and communities

In April 2007 tydens ’n personeel wegbreek by Slanghoek is dit opnuut bevestig en is die verdere klem geplaas van ons roeping in hierdie land. Daar is baie sterk besef dat Suid-Afrika die land van ons geboorte is en dat dit iets vir ons wil sê tov ons roeping. Daar is ook besluit om die Suid-Afrikaansevlagas simbool van ons verbondenheid aan ons land in die ouditorium te plaas. Soos die motto op die nuwe “Coat of Arms” sê: “!ke e:/xarra /ke” (“Diverse people unite” – unity in diversity).

In Augustus 2007 het bykans tagtig personeel en leiers van ons gemeente weer gaan afsonder in ’n nat Slanghoek en na diepe besinning besef dieselfde gedagtes van 2005 leef nog steeds baie sterk in ons harte. Ons wil ons roeping as gemeente sien as koninkryksagent in ’n stukkende wêreld met die gebed van Jesus “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:10). Die konteks van ons “sout” en “lig” wees is Jerusalem (Bellville), Judea (Kaapstad en Skiereiland), Samarea (Suid-Afrika en Suidelike Afrika) en tot aan die uiterste van die aarde (ons kontinent en alle nasies). [Vergelyk Matteus 28:18-20, Handelinge 1:8] 

Ons spesifieke roeping hou in

  • om mense in ’n lewende verhouding met Jesus Christus te bring en hulle te help om te groei as volgelinge van Jesus sodat hulle die lewe in oorvloed kan geniet (Johannes 10:10). Dit hou veral ook in die proses van innerlike genesing en heelmaking van dit wat alles stukkend gegaan het in mense se lewens, omdat ons leef in ’n gebroke wêreld en ’n vyand het wat voortdurend probeer om ons te beroof.

  • om te fokus op die armoede-probleem, wat onderliggend aan die meeste problematieke van ons konteks is. Ons wil veral fokus op die gebiede wat die ergste getref is, veral ook omrede die hele impak van kolonialisme en apartheid, bv. Khayalitsha en in Suidelike Afrika. So wil ons help om God se koninkryk op hierdie aarde te laat kom (Matteus 6:10) deur beginsels soos ”righteousness, peace and joy” (Romeine 14:17) na te jaag.

Ons besef alles begin daarby dat die koninkryk van God eers in ons eie lewe moet kom (vgl. Lukas 17:21) en dat ons met passie Jesus se denke wil nastreef en sy Gees in ons lewe wil laat opereer (Filippense 2:5, Johannes 14:15-25). Ons is immers burgers van sy koninkryk!