Liefste Vredelust Familie
Ek lees op die oomblik ‘n boek van Gideon Joubert waarin hy onder andere noem dat ons sintuiglike waarnemings, emosionele instelling en verstandelike vermoë is op die dimensie van ons eie bestaan ingestel, die wêreld tussen dit wat oneidig groot en dit wat oneindig klein is. Ons tussenwêreld lê halfpad tussen die ontsaglike galaksies en die mikrowêreld van ‘n haar op ‘n mier se kop. So ook spruit ons taal uit die tussenwêreld om alledaagse verskynsels te beskryf wat deur ons sintuie waargeneem word. Ek dra op die oomblik so ‘n oorweldigende dankie in my hart rond, wat ek regtig nie weet hoe om te verwoord met ons tussenwêreld taal nie.
‘n Week gelede het ek 4 jaar se herinneringe in sakke gepak, in my karretjie gelaai en teruggery Vrystaat toe om volgende jaar my gemeenskapsjaar in Bloemfontein te kom doen. Met die inpak, is ek weer deur elke fase gedurende my 4 jaar se swottings gedra. Jinne, ek het besef ‘n mens worstel deur baie dinge as student en omdat ek ver van die huis was, was daar baie ontdekkingsvryheid. Ek was gedwing om te groei in myself en dit waarvoor ek wil staan.
Om Jesus te ken is absoluut lewe vir my en ek het lank gehonger na ‘n plek waar ek vrylik met ander harte daarin kon deel. Die 2e Sondag van my 1e jaar, het ek by Vredelust ingestap en na die diens uitgestap met die wete dat Jesus GEKEN word in die mense se harte daarbinne. Leon het gepreek en Sy sensitiwiteit vir die Gees daardie aand, het my alreeds met die intrapslag laat voel asof ek by die huis ariveer het.
Sondae-aande was my naweek hoogtepunt gedurende die afgelope 4 jaar. Die woord, worship en Sy teenwoordigheid is soos ‘n Ligtoring in my studente-lewe gewees. ‘n Mens word gekonfronteer met ‘n verskeidenheid van golwe, storms, donker tye en seëstrome tydens die soeke na waarheid binne ‘n baie vry omgewing en uiteenlopende denkwyses.
Dankie vir die wyse waarop Vredelust mense toerus om te onderskei tussen donker en lig en om besluite op grond daarvan te kan neem. Dankie dat ek ons Ligtoring voor oë kon hou wanneer my arms net nie meer wou swem nie. Dankie dat ek nuwe openbaring van familie kon kry. Wat ‘n vreugde om boeties en sussies in Hom te wees. Ek het kosbare boeties en sussies leer ken wie se invloed tot in ewigheid in my lewe rimpel en wie ek altyd in my hart sal dra, oral waar ek gaan. Dankie vir die uitdagings om te verander, nuut te word, meer te soek. Dankie vir andersheid. Dankie vir die sterk maak van lam knieë. Dankie vir oorgee. Dankie, so baie dankie vir die LEEF van SY ONVERANDERLIKE, ONVOORWAARDELIKE, ONBEGRENSDE, GENESENDE, DIEPVLOEI LIEFDE!!!
Die eerste 3 ure van die pad huistoe (ons bly op ‘n plaas so 100km van Bloemfontein af) het ek Sy voete gewas met onophoudelike fonteine van my trane (daar moes seker ‘n paar engele om my karretjie wees, want ek kon skaars sien). My hart was so gebroke omdat ek so dankbaar was oor ‘n onverwoordelike 4 jaar! Tydens die fontein-sessie, het ek aan Jesus genoem dat Sy voete vir my genoeg is. Solank ek by Sy voete kan bly, sal ek dit enigplek in die wêreld gaan soen. Dit het ‘n subtiele hartsverandering teweeg gebring.
Toe ek oor die Oranje rivier ry, het ‘n opwinding in my begin bruis. ‘n Opwinding oor verandering. ‘n Opwinding oor ‘n veranderde lewe. ‘n Opwinding oor ‘n vry hardloop in die vlaktes met die wind in my hare. ‘n Opwinding oor ‘n afhanklikheid.
Dankie dat ek diep hartseer kon wees oor die agterlaat van my Vredelust familie, dankie vir die kosbare toerus die afgelope 4 jaar om die Lewe met alles in my te wil aangryp en voor in die wind te wil hardloop. Dankie dat die worship liedjies aahou sing in my hart en dat ek dit luidkeels in die veld kan uiter, al is ek 1030 km ver J Dankie dat ek elke werker op ons plaas met ‘n veranderde hart kan liefhê en wil omvou met Hom. Dankie vir die wyse waarop Jesus GEKEN word!
Ek bid oor Vredlust ‘n lê van ons koppe op Sy bors en dat ons onsself in daardie oorgee sal verloor.
Al my liefde en ‘n oorweldigende dankie,
Estie (‘n Sussie in die Vrystaat!)