Dag 145
Oggend
Psalm 99 DB
1 Die Here regeer! Laat elke mens dit weet en dan besef hoe klein hy of sy voor God is. 2 Die Here regeer oor almal bo in die hemel; op die aarde bewe almal voor Hom. Die Here is groot tussen sy mense, groter as die grootstes van hierdie wêreld. 3 Laat almal U grootheid bewend prys: “U is heilig!” 4 Here, U is sterk en heers oor alles; U doen net wat reg is. Die grense van wat billik is, het U getrek. Deur die geskiedenis het U gewys wat reg en verkeerd is. 5 Maak die Here, ons God, groot bo alles. Buig laag voor sy voete. Hy is heilig! 6 Mense wat die Here in die ou tyd gedien het, Moses, Aäron en Samuel, het Hom gevra om hulle te help. God het geluister en gehelp. 7 Uit die wolkkolom het die stem van God gekom. Sy mense het geluister en gedoen wat Hy vra. 8 O Here, ons God, U het geantwoord toe hulle gevra het. U was bereid om steeds goed vir hulle te wees, al moes hulle soms vir hulle sonde boet. 9 Maak die Here, ons God, groot. Kniel voor Hom neer en erken Hom vir wie Hy is. Die Here, ons God, is heilig!
Middag
1 Samuel 17:24-37 NLV
24 Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was. Die manskappe van Israel sê toe: 25 “Het julle hom gesien? Elke dag kom hy uit om Israel te beledig. Die koning het ’n groot beloning aangebied vir enigeen wat die man sal doodmaak. Die koning sal een van sy dogters vir hom as vrou gee en sy hele familie sal van belasting vrygestel word!” 26 Dawid praat toe met die ander wat daar by hom staan. “Wat sal gebeur met die man wat hierdie Filistyn doodmaak en so ’n einde bring aan die skande oor Israel? Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die leër van die lewende God so beledig?” 27 Dawid het dieselfde antwoord as vroeër ontvang: “Dit is wat sal gebeur met die man wat hom doodmaak.” 28 Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!” 29 “Wat het ek dan nou gedoen?” antwoord Dawid. “Ek het maar net ’n vraag gevra!” 30 Hy gaan toe na iemand anders toe en vra dieselfde vraag en kry dieselfde antwoord. 31 Al meer mense het gehoor wat Dawid sê en het dit aan Saul oorgedra. Hy het Dawid laat roep. 32 “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!” 33 “Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!” 34 Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna. 35 Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36 Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het! 37 Die HERE wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!”
Aand
Markus 5:1-13 LB
So het hulle aan die oorkant van die meer aangekom. Dit was die gebied waarin die Geraseners gewoon het. 2 Jesus het net uit die skuit geklim, toe kom daar ’n man met ’n onrein gees reg op Hom af. Hierdie man het gekom uit die rigting van die grotte waarin die mense begrawe is, 3 want dit is waar hy gewoon het. Niemand was sterk genoeg om hom te beheer nie. Vantevore het die mense al ’n hele paar maal probeer om hom te boei met kettings aan sy hande en voete, maar hy het die kettings eenvoudig gebreek en uitmekaar geruk. Later het niemand meer kans gesien om hom te probeer vasbind nie, selfs nie met kettings nie. 5 Dag en nag het hy daar tussen die grafte en in die berge te kere gegaan. Hy het aanhoudend gegil en homself met skerp klippe gesny. 6 Hy het Jesus van ver af al opgemerk en aangehardloop gekom en voor Hom neergekniel. 7 Jesus beveel die onrein gees toe: “Gaan uit die man uit!” Toe skree die man baie hard: “Waarom kom pla jy my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek vra jou in God se naam—moet my tog nie pynig nie!” 9 Jesus vra hom toe: “Wat is jou naam?” “My naam is Horde,” antwoord hy, “want ons is ’n groot klomp.” 10 Die man het Jesus aanhou soebat dat Hy tog nie die geeste uit daardie streek moet wegstuur nie. 11 Daar naby was ’n groot trop varke aan die wei teen die kop. 12 Die geeste vra Jesus toe: “Stuur ons tog na die varke toe, dan gaan ons in hulle in!” 13 Die oomblik toe Jesus dit toelaat, gaan hulle uit die man uit en vaar in die varke in. Die hele trop varke storm toe teen die steilte af in die meer in waar hulle versuip het. Daar was altesaam omtrent tweeduisend varke in die trop.